Ruan Geyser

Valicia Meyer het ons seun Ruan se Genetiese Breinprofiel gedoen toe hy maar ‘n seuntjie van 3 jaar oud was.  Hy is vandag 18 jaar oud en staan op die drempel van sy laaste groot eksamen voordat hy die “grootmens wêreld” betree. ‘n Eksamen waarin hy ‘n paar onderskeidings verwag omdat hy al die vakke gevat het wat sy profiel soos ‘n handskoen pas.

‘n Mens maak deur jou kind se lewe orals beleggings in sy of haar opvoeding en ontwikkeling, sommiges meer suksesvol as ander.  Een so belegging wat puik resultate gelewer het en waarvoor ek baie dankbaar is, was daardie breinprofiel en die leiding wat Valicia gegee het met haar ongelooflike aanvoeling en liefde vir haar medemens.

Nadat Valicia daardie verslag aan ons voorgelê het was my “moeilike” “sensitiewe” en “komplekse” kind vir my soos ‘n oop boek. Skielik het ek verstaan hoekom sekere goed hom ontstel en ander hom beweeg om sy bes te doen en werklik te presteer.  Ek kon hom help en leer hoe om homself te “fokus” in moeilike en stressvolle situasies en gevolglik het hy mondelinge, eksamens en selfs spanningsvolle situasies op die sportveld met groot sukses hanteer en het hy vandag die vermoë om uiters gefokus en kalm te bly ongeag die eksterne faktore.

Soos hy ouer geword het, het ons ook die verslag met hom deurgewerk en hy het homself goed leer ken. Hy het verstaan hoekom sekere dinge vir hom meer natuurlik kom en hy maklik daarin presteer maar ook hoe om beter te wees in die dinge wat vir hom meer van ‘n uitdaging is.  Ons het verstaan hoe om met mekaar te kommunikeer sodat die ander persoon die boodskap reg “hoor” en verstaan so deur die gewoonlik buierige tienerjare het ons bootjie op kalm waters gevaar.

 

Die grootste voordeel van alles is egter dat hy vandag ‘n goed gebalanseerde mens is wat homself verstaan, goed kan kommunikeer en spanning en konflik uitstekend kan hanteer.  Hy weet waar lê sy sterk punte of dit wat natuurlik vir hom makliker kom en hy fokus daarop met groot sukses.

Ek beveel verseker enige ouer aan om die Genetiese breinprofiel te laat doen. Valicia is uiters bekwaam en het die pad met ons gestap, altyd met goeie raad en praktiese idees van hoe om Ruan te help om sy volle potensiaal te bereik.

Baie dankie Valicia vir jou groot aandeel in die lewe van hierdie pragtige jongman met soveel passie en groot drome vir die pad vorentoe, jy het verseker ‘n reuse verskil gemaak.

Met liefde van ‘n trotse mamma,

Marlene Geyser